Wat ons Bied

Ligging

Die Oog Aftree-landgoed word ontwikkel deur die omskakeling van die gewilde Die Oog Warmbron vakansie-oord. Dit is geleë by ‘n natuurlike mineraalbron, in ‘n idilliese omgewing aan die voet van die Waterberg, net buite die dorpie Naboomspruit in die Limpopo Provinsie.

Met sy natuurlike Bosveldomgewing, warm klimaat en wye verskeidenheid fasiliteite is Die Oog die ideale plek om af te tree. Die landgoed bied uitstekende waarde vir geld.

Al die vakansie-oord fasiliteite word behou en addisionele fasiliteite en dienste word ook gebou. Dit hou die voordeel in dat die aftree-landgoed van dag een af operasioneel kan wees en in die leefstylbehoeftes van sy inwoners kan voldoen.

Meer as 500 van die eenhede is al verkoop en die nuwe intrekkers woon reeds baie gelukkig op Die Oog. Vriende en familie van die inwoners wat hulle besoek, kan die vakansie-oord fasiliteite benut en het die keuse om by die inwoner te oornag of om ‘n aparte eenheid te huur.

Die aftrede-kenner Syd Eckley, is ‘n voormalige voorsitter van die Beheerliggaam. Hy het ‘n groot rol gespeel in die beplanning van elke aspek van die aftree-landgoed om te verseker die dienste en leefstyl is suksesvol en standhoudend op die langtermyn.

Behalwe vir al die fasiliteite en dienste, bied Die Oog aan sy inwoners:

• ‘n Vakansie-oord leefstyl
• Mediese gemoedsrus
• Deeltitel belegging vir kapitaalgroei en verhuringsmoontlikhede
• ‘n Fokus op aktiewe veroudering met al die fasiliteite, dienste en ondersteuningsprogramme wat daarmee gepaardgaan.

Met bekostigbare huise en ‘n sterk verhuringsmark is Die Oog die ideale belegging. Enige persoon kan ‘n eenheid koop en uitverhuur vir ‘n goeie opbrengs, ongeag of jy later self daar wil woon of nie. Inwoners van Die Oog Aftree-landgoed moet net bo die ouderdom van 50 jaar oud wees.

Vakansie-oord leefstyl

Die Oog bied ‘n vakansie-oord leefstyl en fasiliteite aan die inwoners wat ideaal is vir die traktering van gaste, kinders en kleinkinders en sluit die volgende in:

  • ‘n Warm- en koue minerale swembad
  • Putt-putt
  • Tennisbane
  • ‘n Waterglybaan
  • Vlugbal
  • ‘n Speelpark
  • Staproetes

Die leefstyl bied ook ‘n ruim uitleg, oop spasies op 200 ha, gevestigde bosveld en ‘n wildskamp wat die onderstaande wildsoorte insluit.

  • Koedoe
  • Blouwildebees
  • Rooibok
  • Zebra
  • Nyala
  • Ribbok
  • Kameelperd
  • Blesbok
  • Duiker
  • Klipspringer
  • Steenbok

Aftree-fasiliteite

Die verskeidenheid van fasiliteite en dienste by Die Oog maak dit moontlik om ‘n aktiewe leefstyl te handhaaf.

Die volgende fasiliteite bestaan reeds – ‘n groot voordeel vir inwoners.

  • ‘n Geriefswinkel en dameskroeg.
  • Kosmetiese Spa: Haarversorging, naelsorg, velsorg en skoonheids-terapie deur plaaslike diensverskaffers in die hoofgebou.
  • Verhitte swembad met oefenprogramme wat gemik is op die behoeftes van ouer persone.
  • Gimnasium
  • Stoorfasiliteite vir karavane en sleepwaens, asook ‘n motorwassery.
  • Werkswinkels vir houtwerk en ander stokperdjies: Sommige inwoners het reeds werkswinkels gekoop om hulle stokperdjies te beoefen sonder om ander inwoners te steur.
  • Tuindienste vir die gemeenskaplike areas en huisskoonmaak-dienste een keer per week met addisionele dienste op aanvraag.
  • Wasgoeddiens en nutsman diens.
  • Groot skerm televisie vir sosiale geleenthede.
  • Vervoer na die dorp vir inkopies, banksake en ander aktiwiteite.
  • OTM op die perseel.
  • Wildreservaat met talle wildsoorte en ‘n groot verskeidenheid voëllewe

Die volgende fasiliteite word in die vooruitsig gestel as deel van die ontwikkeling:

  • ‘n Koffiewinkel, restaurant, teetuin en bakkery.
  • Rekenaar- en besigheidsentrum met internet verbinding om internet toegang en besigheidsdienste aan inwoners te verskaf. Dit is aanvanklik voorsien, maar is deur die Beheerliggaam gestaak. Die diens sal op ‘n later stadium weer ‘n aanvang neem.
  • Werkswinkels vir houtwerk en ander stokperdjies: Verdere werkswinkels sal in die toekoms gebou word om inwoners in staat te stel om hulle stokperdjies te beoefen sonder om ander inwoners te steur.
  • Naaldwerk- en kunssentrum.

Aktiewe LEEFSTYL

Die konsep van aktiewe veroudering begin al hoe meer gewild raak onder ouer persone in Suid-Afrika. Hierdie beweging behels dat mense aangemoedig word om aktief te wees na aftrede om te werk, te studeer, inkomste te verdien, te sosialiseer, reis, belê in die omgewing en om nuwe uitdagings te aanvaar. Dit is in skerp kontras met die uitgediende idee dat aftrede ‘n tyd is om te gaan stilsit en niks doen nie.
Aktiewe veroudering impliseer ‘n gesonde leefstyl om afgetredenes in staat te stel om ‘n langer, beter kwaliteit lewe te hê. Dit het ook gelei to vernuwende denke in die ontwikkeling van aftreebehuising, waarvan Die Oog ‘n goeie voorbeeld is.

Die Oog aftree-landgoed is die eerste van sy soort in die land wat aan sy inwoners ‘n permanente, opwindende, bekostigbare vakansie-oord leefstyl bied. By Die Oog kan inwoners die sogenaamde tweede lewe geniet, hulle drome verwesenlik en nuwe dinge ervaar.

Tesame met die bevordering van ‘n aktiewe leefstyl bied Die Oog mediese gemoedsrus, ‘n verskeidenheid van fasiliteite en dienste, asook finansiële sekuriteit deur deeltitel eienaarskap.

Die gedeelde eiendom sluit in die Serolo natuurreservaat van 160 ha met ‘n verskeidenheid wildsoorte, die Eugene Marais gedenk biblioteek en die ontwikkelingsarea van nog 40 ha waar ‘n verskeidenheid van tipes wooneenhede opgerig word.

Die terapeutiese water van Die Oog die natuurlike warmbron waarvan die landgoed se naam ontleen is, bly boonop ‘n immergewilde aantrekkingskrag.

Sekuriteit

Die Oog is geleë in ‘n omgewing waar misdaad nog nie ‘n probleem is nie. Nogtans het die ontwikkelaars besluit om geen kanse te vat nie. Uitstekende  sekuriteitsmaatreëls word aangebring om die inwoners te verseker van hulle persoonlike veiligheid.

‘n Nuwe geëlektrifiseerde grensheining is reeds opgerig en in die toekoms sal die heining verder met die hulp van kameras beveilig word. Streng toegangsbeheer word toegepas. Binnekort is daar ‘n nuutgeboude hoofingang, vanwaar die sekuriteit beheer sal word.

Die mees moderne tegnologie word aangewend om gemoedsrus te verseker. Die toegangsbeheer behels registrasie en kontrolering van die in- en uitbeweeg van alle persone deur die hoofingang en alle aktiwiteite word ook op kamera vasgelê en gestoor.

Alle elektroniese toerusting word gerugsteun deur ‘n stelsel wat verseker dat dit werk deur kragonderbrekings van tot een uur lank. ‘n Kragopwekker is verder op bystand om te verseker dat daar geen onderbreking in die sekuriteit plaasvind nie.

Share