Die Oog se groen vingers blom kruie

Op 10 Oktober 2012 het Die Oog sy eie kruie –en slaai tuin verwelkom,  met ‘n openings funksie gereel deur die Vlytige Voete vroue organisasie.  Die tuin is amptelik oop verklaar deur Kriek de Beer, toe Gheri van der Walt die rooi lint voor die hek van die tuin geknip het.

Wat hierdie tuinprojek so interessant gemaak het is dat dit grootliks deur ‘n  inwoner inisiatief begin is!  Pieter Meyer het met die idee gekom om die tuin te vestig en dit is toe finansieel deur die Ontwikkelaar ondersteun.

Die Landskap argitek Beukes Goosen het gehelp met die uitleg en die bou van die beddings en Lydia se kombuis, het vroeg reeds vir ons aangedui wat hulle graag in die tuin sal wil hê.  Inwoners het spontaan geld geskenk sodat ons direk met plantjies  kon begin eerder as saad, en verskeie inwoners het moue opgerol en saam gewerk om dinge gedoen te kry.

Ons het tussen 20 en 30 verskillende spesies slaaie en kruie aan die groei in die tuin. Onder meer is daar Basiliekruid, koljander, radyse, pietersielie, vinkel, tiemie, spinasie, ‘n verskeidenheid slaaiblare, 2 olyfbome en tamaties.   Alles word 100 % organies verbou, wat beteken dat ons geen chemiese stowwe vir bemesting, onkruid- of plaagbeheer gebruik nie.

Die bolaag in die beddings is goeie kompos (omtrent 350 mm dik) wat ons self by Die Oog, gemaak het. Ons bemesting bestaan uit “erdwurm-tee” wat ook plaaslik geproduseer word, en daarby voeg ons EM, wat ‘n organiese byvoeging is om die opneem van plant voedsel deur die plante te verbeter. Ons strooi so ongeveer elke ses weke ‘n klein hoeveelheid “afgebreekte hoendermis”, gee genoeg water,  baie liefde en saam het ons ‘n wenresep beet!

Soos wat die Kruie- en Slaai tuin vir ons kos ‘n aangename geur en smaak kan gee, is dit ook vir ons as mense moontlik om vir mekaar ‘n aangename geur en smaak te verskaf. Mag dit so wees dat elkeen van ons so ‘n lewenswyse elke dag sal nastrewe.

Share

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *